Sing tot die Here se eer! (BM Kerkmusiek)

Dit is met dankbaarheid dat Bybel-Media die volgende inligting oor gemeentesang uit die Liedboek, VONKK- en Flam-liedere wil deurgee.

1.         Die kopiereg van die Liedboek-liedere behoort aan Bybel-Media, reeds sedert 2004 toe NG Kerk-uitgewers by dié organisasie ingelyf is. Histories het Lux Verbi tot in 2011, toe dié instansie volledig in die Media24-stal oorgegaan het, Liedboek se sake bestuur.

2.         Bybel-Media dra die koste van VONKK en Flam se ontwikkeling van nuwe liedere. Die grootste gedeelte van VONKK se kopiereg behoort aan Bybel-Media. In die geval van Flam, berus die kopiereg egter meesal aan die oorspronklike kunstenaars.

3.         Die Christian Copyright Licensing International (CCLI) hanteer namens Bybel-Media die administrasie van die elektroniese verspreiding en insameling van jaarlikse lisensiegeld. Dié organisasie het homself oor die jare as ‘n spesialis op dié gebied bewys.

 

Liedboek van die kerk

Bybel-Media hou rekening met die feit dat die ekonomiese klimaat baie gemeentes op die oomblik laat noustrop trek. Daarom geld t.o.v. Liedboek vanaf Oktober 2012 die volgende reëlings:

Lisensiegeld sal steeds op die grootte van ‘n gemeente se lidmaattal volgens die Jaarboek bereken word. Sedert 2012 word slegs belydende lidmate in ag geneem (vantevore: belydend + dooplidmate).

  • ‘n Nuwe, kleiner kategorie vir die bepaling van lisensiegeld word ingestel, naamlik 0 – 300 belydende lidmate (vantevore was dit 0 – 500). Daar is dus nou vyf kategorieë. Dit is veral vir kleiner gemeentes voordelig.

 

VONKK

‘n Afsonderlike VONKK-lisensie word vanaf Oktober 2012 ingestel – teen net R300 per jaar, ongeag die grootte van die gemeente of hoeveel keer liedere gebruik word! VONKK se liedere sal steeds net met die inpons van ‘n kode op die VONKK-webtuiste www.vonkk.co.za beskikbaar wees.

 

Met hierdie lisensie kry ‘n gemeente toegang tot meer as 300 eietydse klassieke en meditatiewe liedere se bladmusiek en Powerpoints. Die lisensie verleen ook die reg tot elektroniese dataprojektering.

Die grootste voordeel van hierdie nuwe aparte VONKK-lisensie is:

  • dat dit nou geen tydrowende rapportering van liedere meer sal inhou nie.
  • Gemeentes met ’n VONKK-lisensie sal ook alle bladmusiek en Powerpoints op ’n geheue-stokkie by Bybel-Media kan aankoop en jaarliks laat opdateer. (Hierdie voordeel kan gemeentes baie tyd spaar omdat hulle nie die liedere van die internet hoef af te laai nie.)
  • Gemeentes kan ook mettertyd bestaande opnames van VONKK-liedere per geheuestokkie of DVD in MP3-formaat by Bybel-Media aankoop. Reeds 139 van die VONKK-liedere is al so opgeneem. Dit kan ook as begeleiding dien in gemeentes en klein-groepe vir gemaklike saamsing.
  • Gemeentes wat reeds VONKK-toegang het, hoef niks ekstra te doen om na die nuwe lisensie oor te skakel nie. Opbetaalde lisensiehouers se toegangskodes bly geldig.

 

FLAM

Die kontemporêre liedere van Flam is met ‘n gewone CCLI-lisensie toeganklik. Gemeentes met ‘n VONKK-en Liedboek-lisensie kan verdere afslag kry.

Ter wille van die berekening van die tantieme aan die kopiereghouers, moet gemeentes jaarliks die gebruik van dié liedere op die CCLI-sisteem rapporteer. Gemeentes wat dit nie doen nie, sal ongelukkig enige korting verbeur en ook nie weer hulle lisensies kan hernu nie.

 

Nuwe Sionsgesange

Die liedboek wat die meeste Afrikaanse gemeentes van die Verenigende Gereformeerde Kerk (VGK) gebruik, is ook vir die eerste keer per lisensie vir dataprojektors beskikbaar. Dié lisensie sal slegs R300 per jaar kos!

 

Liedboeksleutel

Die Liedboeksleutel was ‘n Lux Verbi-produk waarmee die Liedboek liturgies ontsluit kon word. Ongelukkig werk dit nie met nuwere Windows-weergawes nie, en die uitgewer het dié produk getermineer.  Ons werk tans aan ’n webtuiste wat die liturgiese ontsluiting van al ons liedere moontlik sal maak.

‘n Nuwe e-konkordansie vir gebruik met Lieboek- en VONKK-liedere is egter nou reeds beskikbaar.  Dit is verkrygbaar by Bybel-Media – epos na [email protected] of skakel 0860 26 33 42.

 

Mag ons voortgaan om steeds te doen soos Ps 96 sê:

Sing ‘n nuwe lied tot eer van die Here, sing tot eer van die Here, almal op aarde!
Sing tot eer van die Here, prys sy Naam, verkondig elke dag sy reddingsdade!

 

Author: Adele Lombaard

Share This Post On
468 ad