Hoekom sing ons?

Ek het so paar weke terug die opmerking gemaak dat kerkmusiek ook lekker moet wees – ek het nogal redelik reaksie gekry hieroor.  ’n Paar baie ernstige mense het vir my laat weet dat ‘lekker’ nie ’n norm kan wees wanneer dit by aanbidding kom nie.

Ek het so bietjie verder gaan dink daaroor en opgelees en onder andere afgekom op ’n blog van TJ Miller – hy is Pastor of Worship Arts by die Walloon Lake Community Church, in Michigan in die VSA.

Die blog is getiteld “Why we sing” – hoekom sing ons enigsins in die Kerk, hoekom sing ons in die samekomste van gelowiges, in Bybelstudiegroepe, op jeugkampe.

 

Hy sê:  Ons sing WANT:

 

Ons geniet dit om te sing.  Dis lekker.  Musiek is ’n deel van ons lewe en dit is ’n manier om ons hart teenoor God uit te druk en om ons verhouding met die Here te ondersoek.  Ons sing want dis goed vir ons.  MAAR disnie hoekom ons sing nie.

 

Hy sê:  Ons sing WANT:

Ons sang ‘connect’ ons met mekaar.  Dis iets wat ons tydens ’n erediens sáám kan doen.  Dis ’n belangrike deel van die gom van wat ons aanmekaar laat vashou.  Dis deel van ons identiteit en dis deel van ons verhouding met mekaar.  Dink maar aan ’n kerk soos Hillsongs wat bekend geword het, wêreldwyd, juis vir hulle musiek.  MAAR dis nie hoekom ons in die eerste plek sing nie.

 

Hy sê:  Ons sing WANT:

 

Sang is ’n manier om die Here te dien.  Ons eer Hom wanneer ons ons deeltjie doen om ’n ruimte te skep, ’n geleentheid te skep, ’n uitnodiging te rig, waarin mense die Koning kan aanbid.

Ons eer Hom deur ons trots eenkant toe te skuif – onsself weerloos te stel deur ons harte oop te maak, sodat ander kan sien hoe ons in die openbaar met die Here kontak maak.  MAAR dis nie hoekom ons in die eerste plek sing nie.

 

Hy sê:  Ons sing WANT:

 

Sang maak ’n impak op ons verstand.  Die lirieke, die teks van liedere, is ‘teaching’, dis dogma, Bybelse waarhede wat ons iets van God leer.  Liedere versterk Bybelse waardes en is deel van die proses om ons gedagtes te vernuwe.  Liedere help ons om die fokus weg te skuif van onsself en om ons oë op Jesus te rig.  MAAR dis nie hoekom ons in die eerste plek sing nie.

 

 

Hy sê:  Ons sing WANT:

 

Sang is ’n manier waarop ons iets aan God kan teruggee.  Dis deel van ons lofoffer, ons ‘sacrifice of praise’, wat ons vir God moet bring.  Deur ons musiek kan ons ons Skepper en Verlosser dank en eer vir wat Hy gedoen het.  Om ’n lofoffer voor te berei, is min of meer dieselfde as om die offerlam na die altaar te bring.  Dis my offer aan Hom.  MAAR dis ook nie hoekom ons in die eerste plek sing nie.

 

Hy sê:  Ons sing WANT:

 

Ons sang is ’n vorm van gebed.  Hierdie liedere leer vir ons gebedswoordeskat aan, sodat ons kan bely wat God in ons lewens doen.  Daardie klein momente in ’n lied, wanneer ons nie sing nie, help ons om ons gebede te rig op Hom en help ons om stil te word, sodat ons Sy stem kan hoor.  Maar dis nie hoekom ons in die eerste plek sing nie.

 

Hy sê:  Ons sing WANT:

 

Ons lofsang word verbind aan die beloftes van God.  God belowe dat Hy op ’n spesiale manier teenwoordig is daar waar ons bymekaar is om Hom te eer.  Hy sê letterlik dat Hy in ons lofsange ‘woon’.  Hy belowe ons dat Hy nader sal kom, ons nader aan Hom sal trek, wanneer ons in aanbidding tot Hom nader.  Die Bybel verbind ons lofsang aan beloftes van innerlike genesing, bevryding, wonderwerke en vergifnis.  Maar dis nie hoekom ons sing nie.

 

Hy sê:  Ons sing WANT:

 

Dit het ’n impak op my fisiese liggaam.  Dit forseer my om fisies betrokke te raak in aanbidding – al beweeg ek ook net my lippe.  Dit herinner ons aan ons liggaamlike gebrokenheid en sonde.  Maar dis nie hoekom ons sing nie.

 

Hy sê:  Ons sing WANT:

 

Die Bybel gee ons die opdrag om te sing.  Dis seker een van die duidelikste en mees herhaalde opdragte in die Bybel.  Meer as enige opdrag!  God het ons gebou om vir Hom te sing.  Hy het musiek geskep, selfs voordat Hy óns geskep het.  Wanneer ons sing, is ons aan Hom gehoorsaam.  MAAR dis nie hoekom ons in die eerste plek sing nie.

 

Hy sê:  Ons sing WANT:

 

Sang het ’n effek op ons emosies.  Musiek omseil ons verstandelike filters en maak passie in ons harte wakker.  Dit daag ons uit om uit ons emosionele doodsheid en koudheid wakker te word en om die vlam van aanbidding helder te laat brand.  Ek hou veral van daardie beeld van die vlam, ja.  MAAR dis nie hoekom ons sing in die eerste plek nie.

 

Hy sê:  Ons sing WANT:

 

Wanneer ons lewe op aarde verby is, weet ons dis een van die dinge wat ons in die hemel gaan aanhou doen.  Vergeet nou vir ’n oomblik dat ons almal met harpies en vlerkies gaan sit!  Maar ons gaan sing in die hemel.

 

Musiek is gebruik om ’n paar groot gebeurtenisse in die Bybel aan te kondig.  Dis baie keer gebruik voor oorloë.  Selfs Jesus se geboorte is met koorsang aangekondig!  En klaarblyklik gaan Sy wederkoms met trompetgeskal aangekondig word.

 

Maar dis ook nie hoekom ons in die eerste plek sing nie.

 

So, hoekom sing ons?  Vir die eenvoudige rede dat God waardig is om geprys te word.  Onbeskaamd se song “U is waardig om aanbid te word” draai sommer in my kop as ek hieraan dink.  Om die Here te aanbid is ’n keuse wat ek moet maak.

 

En dan vra TJ Miller hierdie belangrike vraag:  wie dink jy is jy, wie dink ek is ek, om te besluit of aanbidding goed genoeg is of nie?  Wie is ons om ander se aanbidding te oordeel – terwyl daardie reg net aan Hom behoort?

Ons mag nie lof en eer wat Hom toekom, van Hom af weerhou nie!  Dis hoekom ons in die eerste plek sing!

 

 

So, luister hier – dis waarvoor ek my lewe gee, vir gemeentes om dit te kan doen.  Vir jou om daar by die huis of in jou motor op pad werk toe, of waar jy jou ook al vandag bevind – vir jou om God te kan loof en prys, omdat jy net weer besef het:  Hy is dit waardig!  En dan sing jy dit!  Of jy sit jou mp3-speler kliphard aan met musiek waarvan jy hou, waarmee jy dit kan doen – of dit orrels of kore of elektriese kitare en dromme is – ek gee regtig nie om nie – en ek is 100% daarvan oortuig die Here ook nie.

 

Jy kan die oorspronklike artikel gaan lees by http://worshipleader.com/music/why-we-sing/

Author: Adele Lombaard

Share This Post On
468 ad