Gepraat van plate wat vashaak!

In Die By (29 Maart 2014) – die bylae by die Burger – lees ek so paar jaar gelede hoe retro nou weer mode raak.  Hulle haal hierdie guru aan wat blykbaar voorspel het dat verouderde tegnologie weer kuns gaan raak.  Hy sê – dis nou McLuhan, die guru: “We look at the present through a rear-view mirror. We march backwards into the future.”  Agteruit die toekoms in – dit was lankal my leuse!

Nou die dag op Facebook – volgens die artikel in die By – was daar ’n gesprek oor die comeback wat viniel nou maak.  Dit het begin deur ’n opmerking wat ’n FB-gebruiker gemaak het wat so geklink het:

“Volpunte aan die sluwe bemarker wat duisende gullible skapies kon oortuig dat platespelers en plate weer superkoel is. Dis soos om dekades ná die uitvinding van die spoeltoilet ’n klomp idiote te oortuig dat put-toilette eintlik hot … is.”

Ek het egter nie die reaksie verwag wat die persoon gekry het nie.  ’n Stortvloed kommentaar volg toe daarop: van hoe “warm” en “vol” die analoogklank van ’n vinielplaat klink tot hoeveel beter die omslagkuns is. (Én hoe sleg spoeltoilette eintlik vir die omgewing is.)

Vir sy honneursskripsie in elektroniese ingenieurswese aan die Universiteit van Pretoria het Adriaan Pelzer getoets of plate-fanatici werklik iets beet het.  Jip ’n ou het ’n honneurs hierin gedoen, mense, dit moet dus waar wees.

Hy sê:  “Dis voor die hand liggend dat viniel baie meer ruis het as digitale klank,” verduidelik Pelzer. “Die ruis is van ’n aard wat baie gemaklik is vir die oor en dit word pink ¬noise (pienk geruis) genoem – waar die lae frekwensies van die klank sterker is as die hoës. Dis tipies wat mens in die agtergrond hoor wanneer jy naby die see is.

Pelzer het klanktoetse gedoen waar hy vir mense ’n opname gespeel het mét ruis soos op ’n plaat – en dan weer daarsonder. Hy het bevind daar is ’n direkte korrelasie tussen die oorspronklike kwaliteit van ’n opname, en die hoeveelheid mense wat digitaal bo viniel verkies. (Hoe hoër die gehalte, hoe meer mense kies digitaal.)

Sy gevolgtrekking? “Mense luister liewer na die pienk geruis op ’n plaat as na die newe-effekte van swak mikrofone of kabels. Maar die newe-effek wat die vinielplaat bysit, is baie lekkerder om na te luister as amper enige ander moontlike newe-effek. As die plaat-ruis dus ander newe-effekte onhoorbaar maak, eindig jy met ’n beter eindproduk.”

Nou toe nou!  Ek het nog my Sonja Herholdt-plaat – en my Jannie du Toit plaat.  En die CD wat hy uitgereik het getiteld:  “Vaarwel aan viniel”.  Ek dink hy mag dalk nou weer ’n plaat uitreik met die moontlike titel:  “Welkom terug Ou Viniel, al was jy toe nooit weg nie”.

So, ek het ’n voorstel vir gospel kunstenaars.  Vergeet van CD’s.  Reik jou album op viniel uit. En natuurlik op www.fluister.co.za Jy gaan ’n killing maak en mense gaan nie eens al jou foute raakhoor nie!

Author: Adele Lombaard

Share This Post On
468 ad