Wat sing of luister julle hierdie Pinkster?

Noudat Pinkster naderkom, wil ek julle bekendstel aan liedere wat oor die Heilige Gees gaan.

 

Laat ek myself dadelik korrigeer:  Dis vir my nogal belangrik dat ons nie net VAN die Heilige Gees sing nie, maar TOT Hom.  Verstaan mooi, dis nie verkeerd om VAN die Gees te sing nie, maar as ons net VAN Hom sing, dan versterk ons die dwaling dat die Gees net ’n krag is – ’n abstrakte energie – want ons weet mos Hy is ’n Persoon – Hy is God!  En daarom is Hy ons lof en aanbidding waardig!

 

Ek wil dit sommer reg aan die begin sê dat ons nie genoeg liedere het wat ons tydens Pinkster kan sing nie.  Ons het derduisende Kersliedere, lofliedere, lydensliedere, opstandingsliedere – maar oor hemelvaart en Pinkster sing ons eintlik – as ons eerlik sou wees – te min.

 

Ek weet nie hoekom dit so is nie – maar in elk geval in Afrikaans is daar te beslis te min.

 

1.    Ek het U nodig

Dis eintlik ’n aanbiddingslied, luister maar na die woorde.  Dit word gesing deur Freddie Wessels en dit is van die Folgende-album.  Die album word versprei deur Merchant.

 

2.    Met my hele hart

Julius Magan sing ‘Met my hele hart’ op die album ‘Roeping Lof’.  Ek het dit al van te vore gesê, ek is mal oor Julius se stem – en dis eintlik so min dat hy Afrikaans sing!  Jy moet dit mos net waardeer.  Die album word uitgegee deur Maranatha.

In ‘Met my hele hart’ word die Heilige Gees direk aanbid.  “U liefde verteer my, O Heilige Gees”.

 

3.    Hier is U Kerk

Sonder dat ons dit beplan het, het hierdie lied nogal ’n tema-lied in ons gemeente geword.  Dit sê so mooi wie ons is en wie ons wil wees!  Wanneer ons dit sing bid ons daarmee dat die Heilige Gees oor ons moet kom, ons die gawes moet gee, sodat ons die dissipels kan wees waartoe die Here ons geroep het.  Sodat ons kan dien, waar ons is Sy liefde kan bring.

Dis op die Fluistering-album en word gesing deur Neil Büchner en Jandré Viljoen.

 

4.    There’s a wind a blowin

By een van die Daniel-konferensies was die lied ‘There’s a Wind a blowin’  – en dit praat natuurlik mos van die Heilige Gees wat soos ’n Sterk Wind is, wat waai waar Hy wil, wat deur ons kom waai!  Die tweede vers vertel van die uitstorting van die Heilige Gees op Pinksterdag, van die tonge van vuur wat op die dissipels gekom het – ek weet nie van baie liedere wat so poëties maar tog so direk die gebeure beskryf nie.  En dis dan ‘n gebed dat die Heilige Gees sy vuur oor ons elkeen sal uitstort.

Dit word gesing deur Cornel Driessen op die album ‘Duisende Daniels aanbid’.

 

5.    Heilige Gees

Anders-orkes – Wynand & Lindi Delport – het seker een van die mooiste bedieningsliedere oor die Heilige Gees geskryf.  Die titel van die lied is eenvoudig ‘Heilige Gees’.  Luister so bietjie na die ongelooflike lied.

 

6.    Kom, Jesus kom!

Al byna seker ’n Golden Oldie – Retief Burger – op sy heel eerste album ‘Luidkeels’.  In die lied sing ons saam ‘Die Gees en die Bruid roep uit:  Ons wag, ons smag…  Kom Jesus!  Kom Heilige Gees en reinig ons vir die bruilof van die Lam.”

 

 

 

7.    Aan U voete, Heer

is ’n lied van die album Flam, Volume 1 – uitgegee deur Maranatha.  Dis dalk nie die mooiste opname of die mees kontemporêre styl waarin die lied opgeneem is nie – maar luister net na die woorde

 

Ons verlang na u teenwoordigheid, Heer,

om saam te kniel in aanbidding;

in Gees en waarheid waarlik een te wees,

daarom buig ons voor U neer.

 

8.    Sonder U Gees

is ’n opname van die gewilde Onbeskaamd-band o.l.v Stass – oftewel Gerhard van Veuren.

 

Sonder u Gees kan ons nie, wil ons nie beweeg nie.

Sonder u Gees is ons blind en sonder krag.

Maar met u Gees is ons sterk, kan ons werk

is ons altyd gereed om te doen wat U vra.

 

Pinkster is die Fees van die Gees, maar dis ook die tyd in die kerklike jaar waar ons as Kerk ons taak oordink, want die Here het ons nie net gestuur om getuies te wees in Jerusalem en in Judea en Samaria en tot aan die uithoeke van die aarde nie – Hy het ons Sy Gees gegee om ons te vul met Sy krag.  Dit is waarvan die lied ‘Sonder U Gees’ praat.

 

9.    Dis die opdrag van God

Nog ’n lied wat praat van ons opdrag as Kerk en die Gees wat ons daarin bystaan en toerus is die lied ‘Dis die opdrag van God’.  Die woorde sê:

 

Dis die opdrag van God,

dis sy groot gebod

om jou naaste lief te hê soos jouself.

Hy gebruik vir jou en my

om sy koninkryk uit te brei

en Hy stuur ook sy Gees om ons te help.

 

Hy maak ons deel van sy liggaam,

Hy maak ons deel van sy kerk.

Hy leef in ons harte

en in Jesus se Naam staan ons sterk.

 

Die opname kom van die album ‘Roeping Lof’ en dit word gesing deur ’n man wat ook die skrywer van die lied is, Willem Gouws.

 

10. Kom Heilige Gees

is ’n gebed geskryf deur daardie Nederlandse Suid-Afrikaner, Andre van Zyl.  Jy kan gerus gaan luister na die hele “U oorweldig my” album.  Dis meesterlike produce en opgeneem deur Helmut Meijer en sy span.

 

Kom Heilige Gees

Kom met U vuur

Kom en ontmoet my hier

Kom Heilige Gees

Kom met U krag

Kom en herstel my hart

Amen

 

11. Skepper Gees

Skepper Gees is al vir baie gemeentes ’n ou bekende lied, ’n gebed waarin ons tot die Heilige Gees bid om ons lewend te maak, te lei, te troos en ons van die Seun te leer.  Interessant genoeg is daar ’n fout in die teks van die opname – luister maar hoe hulle sing “Leer my van U Seun” i.p.v. “Leer my van die Seun” – ’n klein tog ernstige foutjie.

Skepper Gees bly egter ’n lied wat ek weer en weer kan sing.

 

12. Wolkbreuk

Ek bely dat ek altyd wanneer ek die keuse het ’n alt-stem bo ’n sopraan sal kies, maar Carli Lessing het ’n unieke meesleurende en kragtige stem.  Meer nog, die Heilige Gees het haar toegerus met ’n gawe om woorde agtermekaar te sit en musiek te skep wat nie in Afrikaans sommer sy gelyke het nie.

 

Die lied ‘Wolkbreuk’ is opgeneem op haar derde solo-album “belofte van reën”

Hoor net gou hierdie poësie:

 

Heilige Gees, kom stuur ’n wolkbreuk

na hierdie woestynhart van my.

Laat waarheid en woord weer kom insak

tot diep by die wortel van my.

 

Met elke newelbeeld van uitkoms

kom draai weer my oë terug na U.

Gee my weer die asem vir die lang pad

om enduit getrou te kan bly.

 

Help my vashou aan u beloftes,

help my vashou aan hoop,

help my vashou aan die waarheid,

help my vashou aan U.

 

13. Seëngebed

Ek het gewonder of ek hierdie laaste lied moet insluit.  Om die waarheid te sê toe die Flam-span die lied oorweeg het, het ons ook gewonder of mense verby die politiese konnotasies van die lied sou kon kom.

Dit was Jan Hoogendyk (vandag bekend as Elvis Blue) wat die eerste keer vir ons weer bewus gemaak het dat “Nkosi Sikelel’i Afrika” – oorspronklik geskryf deur Enoch Sontonga – ’n diep geestelike lied is, waarin ons tot die Heilige Gees bid om neer te daal en ons te seën, om ons as Kerk te lei tot eenheid en begrip.  En om vir ons weer vrede te gee.

 

Ek weet nie wie hierdie Afrikaanse vertaling van die oorspronklike Xhosa kerklied geskryf het nie – dis nie Elvis Blue óf Jan Hoogendyk nie – dalk weet een van julle?

 

Hierdie opname is op die Fluistering-album en dit is die merkwaardige stem van Jandré Viljoen wat jy gaan hoor.

 

 

 

My gebed vir elkeen van julle in hierdie Pinkstertyd is dat julle opnuut bewus sal raak van die kragtige werking van die Heilige Gees.

Author: Adele Lombaard

Share This Post On
468 ad